As jy vandag doodgaan. Hoe sal jy onthou word?

As jy vandag doodgaan. Hoe sal jy onthou word?

Die opskrif is ‘n aanhaling so reguit uit Die Boekklub wat tans op Kyknet te sien is.  Wat ‘n profound stukkie teks. Vir my was die episode van 8 Maart 2016 van Die Boekklub seker hul beste nog.

Dit het my nogal baie laat dink. Wat gaan mense van my onthou. Wat is die een ding wat ek van die mense om my gaan onthou? En dan begin my skrywers-brein weer oortyd werk.

Ek glo elke mens het ‘n klankbord nodig. Iemand wat luister na wat jy sê, objektief antwoord, en nie luister om te antwoord nie. Dis nie altyd so maklik nie soos ek al soveel keer agtergekom het. Met die dat ek ‘n klankbord is by tye. En beste van als , dis menslik. Jy luister na wat die ander persoon sê en is terselfdertyd reeds besig om ‘n antwoord te formuleer. Dit vat inspanning en konsentrasie om WERKLIK te luister.

Vanmore toe ek by die werk instap was die eerste gesprek juis met my klankbord. En wat ‘n gat-omkeer gesprek was dit nie. Ons gesprekke handel gewoonlik oor Megaboere of die Boekklub, die nuuste uitgawe van WEG! Platteland of skrywers soos Johan Bakkes, Dana Snyman of die eksentrieke Dr. Piet Croucamp.

Vanmore se gesprek het gehandel oor Die Boekklub en die vraag soos die opskrif sê. Ek word toe natuurlik met ‘n spreekwoordelike engelse “Curve-ball” gegooi. Want die vraag hierbo is eintlik twee-ledig.

Hoe sal jy onthou word?? Uit jou oogpunt.

Hoe gaan mense jou werklik onthou? Uit hulle oogpunt?

Dis presies hoekom mens ‘n klankbord nodig het. Om jou brein oop te maak en dinge uit ‘n ander hoek te benader.

So: As jy vandag doodgaan? Hoe sal jy onthou word? Of moet die vraag eerder lees: Hoe sal jy onthou wil word?

Ek het in my eerste jaar op Tech ‘n groot vriend aan die dood afgestaan. Saam van Standard 3 af rugby gespeel, krieket gespeel, tarentale geskiet. Trekker gery en parstyd kon ons nie wag om Vrydae na skool op die plaas te kom nie sodat ons kon help pars nie. Hoërskool het ons paaie effe uitmekaar gevloei aangesien ons in verskillende skole was. Hy was ‘n uitblinker op die sportveld, maar nie net daar nie, hy het ook ‘n goeie hart gehad. Hy het mense met respek behandel en was altyd reg om te help. Maak nie saak watter tyd van die dag of nag nie. Seker 3 weke voor sy dood kry ek uit die bloute ‘n oproep.  Jis buddy, ek hoor jy kom Elsenburg toe! Sien uit daarna om weer op te vang en dan gaan ons darem ‘n barshou kuier.

Niks op aarde, kon my voorberei vir ‘n oproep 3 weke later van my ma nie. My pel het die tydelike lewe vir die ewige lewe verruil. Hy het buite ‘n nagklub in Stellenbosch uit ‘n ou eikeboom geval en sy nek gebreek. Dieselfde eikeboom waar mense al seker dekades in klim. My ma het my na ‘n tiekieboks toe gebel, nie dat vandag se kinders sal weet wat dit is nie. Hulle se in die laaste paar sekondes van jou lewe speel jou lewe voor jou af. Van ek die gehoorstuk van my oor weggevat het tot ek die gehoorstuk opgehang het, het ons tye op die plaas, die sportveld en in die klas voor my afgespeel. Die Twice as Nice roomys wat ons uit die koelkas gaan gaps het oor naweke, tarentale wat ons bekruip en geskiet het, swem in die plaasdamme, dae wat ons op die trekker spandeer het om nuwe lande skoon te maak. Hulle het ‘n self-aangedrewe grassnyer gehad en ‘n grasperk so groot soos 3 rugbyvelde. Vrydae na skool, as dit nie parstyd was nie het ons gras gesny. Grassnyer in rat gesit en oorkant mekaar plaasgeneem aan teenoorgestelde kante van die gras. Rugbybal in die hand en dryfings  gespeel. As die grassnyer by jou kom draai jy hom net om en daar gaan hy weer terug.

‘n Dekade se memories in een ophang van ‘n gehoorstuk vasgevang.

As ek terugdink, sien ek hierdie uitbundige blondekop seun, met ‘n ongelooflike passie vir die lewe en vir mense. Gedetermineerd in als wat hy aangepak het en hy het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad.

Dit was die grootste begrafnis waarby ek al ooit was in my jeugdige 35 jaar. Ek het ou skoolvriende raakgeloop, vinnig opgevang. Worcester-Oos gemeente se kerk was volgepak van hoek tot kant, almal het hulle laaste goodbye kom sê.

‘n Gemeenskap het kom afskeid neem van ‘n sonskynkind.

As ek vandag verby Rooiberg ry kry ek nog steeds ‘n traan in my oog as ek die kruis op die kop sien. Ons kindervoetspore van vergange dae reeds deur wind en weer tot stof weggevee. Hulle huis telefoonnommer sit nog steeds in my brein vasgeëts na al die jare. 21394. Maar daardie nommer gaan nooit weer daai sonskyn stem in my ore laat weergalm nie.

Die lewe is nie maklik nie, vol “curve-balls”, onbeplande afdraaie, terugslae en wedervaringe. Soos ek altyd vir mense sê: “Ek is nie die soetste lekker in die pakkie nie.” Maar ek probeer my lewe so lei dat ek niemand tenakom nie.

So 3 dae terug sit ek op Witvos by ‘n robot op die Jip de Jager afrit. Daar is ‘n man wat bedel. Hy is wit en ek kan die swaarkry op sy songebrande gesig lees. Agter my stop ‘n groot container trok. Die ou in die trok gee ‘n ligte toet en die bedelaar stap nader. Ek laat sak my kop effens sodat ek in die spieel kan sien wat gebeur. Uit die trok kom ‘n swart arm en hy gee die man R10. Toe ek  my oe wegskeur van die gebeurtenis agter my het ek weer hoop gekry vir ons land. Hoop dat ons as ‘n reënboognasie wel die wa deur die drif kan trek.

Nie een van ons weet waar ons strepie getrek is nie. ‘n Rukkie terug lees ek van ‘n ou wat ‘n skaap buite Middelpos teen 80km/h getref het en opslag dood is. 4 dae later tref ‘n ou ‘n koedoe teen 160km/h en loop weg met ‘n gebreekte sleutelbeen.

As dit jou tyd is, is dit jou tyd. Jy kan jou lewe op drie maniere lewe: in die verlede, in die hede, of in die toekoms(wat as). Ek kies die hede. What’s done is done. Jy kan dit nie verander nie. Maar jy kan ‘n wilsbesluit maar om ‘n verskil in iemand se lewe, in jou eie lewe, te maak daar waar jy vandag is.

So hoe wil jy hê dat mense jou onthou? En hoe onthou hulle jou werklik?

Uit die skrywe is dit duidelik hoe ek Arnold onthou.

As jy vandag doodgaan. Hoe sal jy onthou word?

Weskus Hokkie Weskus Hemel

Elke jaar met Chantelle se verjaarsdag en ons huweliksherdenking vat ek haar bietjie weg na ‘n plek en sy weet nooit waarheen nie.
Na 2 jaar agtermekaar by Arum Lily was dit tyd vir bietjie verandering. ‘n Week by die strandhuis was hemels. Moet se dis seker die eerste keer in ‘n lang tyd wat en omtrent heeltemal afgeskakel het. Gewoonlik slaap ek vakansie-tye so 1.5 uur, hierdie vakansie het ek so afgeskakel dat ek die Maandag-middag sommer vir 3 ure doodgeruk het.
Ons het die eerste naweek by die see ‘n lekker vol huis gehad. My ouers het bietjie deurgekom see toe en my “Brother from another mother” Johan Lesch (Panda) het ook ingeval vir bietjie kuier saam met ons. Ek moes die motorfiets ook deurvat en het hom sommer by Johan se ouers op Vermont gelos.

By die see het ons sommer lekker gekuier, lekker steak gebraai en bietjie gehengel. Vis het nie gebyt nie. Maar was lekker om sommer bietjie tyd saam met my Boeta te spandeer.
Die res van die week het rustig verbygegly. Te vinnig eintlik want nog so lui-lekker week by die see sou die batterye mooi herlaai het. Klein Fiela(Lisa-Mari) het haar omtrent gate uit geniet. Die weer by Franskraal was uit die boeke en sy kon baie tyd op die strand deurbring.

Maandag oggend die 15de het ons eers ‘n ontbyt deurgewerk, gepak en toe in die pad geval uit Villiersdorp uit. Franschhoek oor. Altyd lieflik om daardie pad op ‘n motorfiets te ry. Eerste stop was Paarl Mall. Wou vir my ‘n hemp of 2 koop. Loop by Markham in en daar kry ek die hemp wat ek al van November af soek!
Myns insiens is daar 3 goed wat ‘n conversation starter is.
1.   ‘n man met ‘n baba in sy arms
2.   ‘n man met ‘n klein cute hondjie
3.   En ‘n motorfiets helmet
Die vrou agter die toonbank het begin uitvra, na my neckbrace, wat ek ry, waarheen ons oppad is, waar ons ry en ek het so bietjie vertel van waar ons al was en wat voorle vir die jaar. Die volgende vraag het my nogal onkant: Wanneer werk jy dan as jy so oral toer?? Die vraag het my nogal aan baas Piet laat dink. Hy vra dit gewoonlik.
Sulke vrae laat my altyd dink? Wat is jou ideale werk?? Geniet jy wat jy doen? Of doen jy dit net om die rekeninge te betaal? Ek hou daarvan om goed te reel en biketrips te organiseer. Neukery is ek doen dit omdat ek lief is vir die buitelug en mense. Heel moontlik ‘n swak besigheidsman maar ek wil he mense moet die mooi in die natuur raaksien en slag stilraak en die pas van die lewe daar buite bietjie afdraai. Sal ek dit voltyds wil doen?? Moontlik ver in die toekoms ja. Kan dit ‘n lonende besigheid wees? Ja. Maar vir nou, gaan ek dit doen uit liefde, nie vir geldelike gewin nie.Maybe someday.
Due South deur nog ‘n hemp en toe deur Wellington toe. Gou petrol ingegooi en vandaar deur Hermon, Riebeeck Kasteel en toe Riebeeck Wes.
Ek het vir die eerste keer actually deurRiebeeck Kasteel gery en mens mis eintlik die hele dorp as jy net regdeur ry. Verseker ‘n plek om na terug te gaan vir ‘n Sondag Breakfast run. Van hier is ons Moorreesburg toe. Danye se altyd hulle verkoop sulke lekker steak. By die slaghuis gestop en sommer gou ‘n koeldrankie gedrink. Chantelle het haar oorbel verloor met die helmet se afhaal maar ek het hom darem weer opgespoor. Na die koeldrank het ons gou steak gekoop en lekker biltong. Dorp uit en verder op die N7 tot by Piketberg. Van hier sou ek vir die eerste keer bietjie nuwe paaie ry. Deur die dorp na Het Kruis. By Het Kruis stasie het ons gestop sodat Chantelle haar been kan ruskans gee en toe kom die sakkie biltong uit.

Nie baie verder nie het die pad grond geraak. Die pad het aansienlik versleg en later. Ons is verby ‘n plantasie van sonpanele (for lack of a better word).

Baie goeie plek vir sonpanele aangesien ek dink die intensiteit van die son is hier vrek hoog. Ons het maar so bietjie aangestoot want hoe vinniger jy ‘n slegte grondpad ry hoe sagter loop ‘n ryding.  Van Sandberg af het die wind van voor begin waai en sommer ordentlik gewaai. Dis darem geteer en ek het die spoed maar so op 120km/h gehou(ons het aansienlik vinniger met die teerpad langs gekom tot by Het Kruis).  Die laaste stukkie Lambertsbaai toe is grondpad en daar is ‘n keuse van 2 roetes. Seelangs of so fraksie meer binneland langs soos die spoor loop.
Ons het seelangs gehou, eintlik die meer sanderige pad. Soos met sand speel die wiele maar so bietjie in die sand en ek het ‘n paar keer klappe van agter gekry. Ek het nie lekker geweet waar ons moet wees nie en kon net Steenbokfontein onthou. Het by die eerste bord ingedraai wat se Steenbokfontein en so tussendeur die sand ryery besef ons is nog nie op die regte plek nie. Weer terug uit op die sand pad en die volgende bordjie wys Weskushokkie. Ons het skuins na 15:00 hier ingedraai en so aan die bokant van die Steenboksfontein plaaswerf verbygery.
Op met die pad en toe kon ek ons verblyf so skuins regs begin uitken van die fotos. Bo by die huis gestop het die huishulp ons vriendelik ontvang en na die Weskushokkie gewys. Ons het bo gestop en WOW!!! Wat ‘n uitsig!

k2e98h99gh9h34eqp83o86z9i

Gou die tasse afgedra en toe besef ons ons kort ietsie koels vir die keel. Chantelle het gese sy gaan  dit rustig vat ek kan maar gou ry. Dorp toe is ek weer oor die treinspoor pad en is seelangs met die kuspad verby Muisbosskerm. Het gou by Spar die nodige gekry en toe onthou ek maar daar is mos ‘n U-Save ook. U-Save is deel van die groep waarvoor ek werk en het toe daar ook ‘n paar goed gekry. Mens hou mos die geld binne jou maatskappy sover as kan. Terug by die huis word ek toe geroskam, ek het die suiker vergeet. En iemand was baie lus vir koffie.
Ek het vir Albert, eienaar van Weskushokkie ‘n boodskap gestuur en gevra of ons hout by hom kan koop.  Ek het so bietjie die koppie regs van die huis verken en volgende oomblik hoor ek iemand roep. Albert. Ons het gegroet en sommer lekker aan die gesels geraak. Hy is self in die Boerdery maar ook doenig met ander goete soos aartappel-uithalers bou en onderhou ens ens ens. Hy was nie lank na dit terug nie, gewapen met ‘n klompie hout.

By navraag hoe hulle besluit het om die Weskus Hokkie staan te maak, hoor ek dat hulle hul huis uitverhuur het Desember en toe vinnig plek moes kry om in te bly. En vandaar het die Weskus Hokkie gestalte gekry. Hy se hy word oorval deur navrae en besprekings en mense bespreek al meer as ‘n jaar vooruit. Ek kan duidelik verstaan hoekom. Die Weskus Hokkie is ‘n stukkie Weskus Hemel. Ek het vuur aangesteek en die Wood-fired jakoetsie aan die gang gekry. Lekker in stilte die steakies gebraai en toe bietjie ontspan in die jakoetsie. Chantelle het ‘n lekker bad gevat en ek ‘n stort. Dis een van die ander lekkertes, dis ‘n opelug stort. Die mure is rotse, en die ligte ‘n sterre-hemel.  Ons het gaan inkruip vir ‘n welverdiende nagrus.

Ek het actually slag laatgeslaap en was so net voor 7 wakker. Het toe sommer bietjie opgevang op die internet – selfoonopvangs hier is nie van die beste nie. En dis gelyktydig ‘n goeie en slegte ding. Slegte ding aangesien mens gewoond is aan vinnige konneksies. Goeie ding want hoekom worry oor internet-konneksie? As jy tyd het, en hier het jy die wereld se tyd en EDGE is heel aanvaarbaar. Dis seker die wonderlikste van die Weskus Hokkie. Tyd gaan staan stil.
Chantelle het eers na 8:00 wakker geword. Eerste woorde. Koffie asseblief? Toe weet ek, suiker gaan haal is my voorland. Gou opgekit en die stuk ingesit dorp toe. Gelukkig net 9km uit die dorp so ek het sommer direk U-Save toe gery. Suiker gekry en ‘n Coke en toe weer terug. Daar loop gedurig treine verby in die verte en ek het toe sommer gaan sit en een van die treine se waens getel. 300 waens.

Die van julle wat my blogs volg, sal weet dat ek nog die begeerte het om vanaf Saldanha na Sishen al met die spoor langs te ry. Hierdie stoepsit het weer daardie reisigerswurm in my begin voed, en navorsing het weer begin. 861km van Saldanha tot Sishen, 18 Loops, nou vir die wat nie weet wat ‘n “Loop” is nie, dis die plek waar die treine mekaar kan kruis. Soos in een van my vorige blogs reeds gese is, ek wil hierdie spoorlyn gaan ry voor ek Baviaans doen.

ndohv4

Buite was dit doodstil, op die stoep is 2 lekker poewe en ek het my op een gaan neerplak. Koffie is bedien en ek het my foon nader gesleep om bietjie van die fotos af te laai wat ek al geneem het. Ek het die leesstof binne uitgevat en bietjie begin oplees oor die plaas en die omgewing. Ek het raakgelees daar is grotte naby asook boesman tekeninge. Sulke dinge prikkel altyd my avontuurlus, so gewapen met ‘n kortbroek, my bike boots en my selfoon het ek opgery na die koppie. Ek het so entjie van die koppie af gestop en toe begin voetslaan in die rigting van ‘n grot wat ek kon sien. Nou hierdie is Sandveld. So sand is die een ding waaraan jy maar gewoond moet raak. Ek het tot in die bek van die grot gestap en toe begin fotos neem. Volgens artikels in die huisie is dateer die grotte tot sover as 3500 jaar terug. Meer merkwaardig nog is dat die laaste Khoi-San tot so onlangs as 300 jaar gelede nog die grot bewoon het. Universiteit Kaapstad het baie navorsing hier gedoen en uitgrawings gemaak.

So stukkie uit die artikels in die huisie:
“Uit die uitgrawings wat tot dusver gedoen is, het die wetenskaplikes tekens van lewe tot sover as 8500 jaar gelede gevind.  Wanneer mens in gedagte hou dat die Griekse beskawing, wat een van die oudstes te wereld is,  5000 jaar oud is, is dit beslis baie besonders dat hierdie grotte die stories van so lank gelede vertel.
Dr Jeanette Deacon voer die grotte drie eras terug. Toe die see hoer as die grotte was, toe die seevlak laer was as nou en waar die seevlak tans is.”
Ek het die eerste grot bietjie verken en fotos geneem, toe na ‘n kleiner koppie gestap ook met grotte en daarna besluit om die groot kop uit te klim. Nou ja bike boots en al is ek die rotse uit, verby ‘n by-nes tot heel bo op die voorste punt van die kop. Vandaar het mens die mooiste uitsig. Na regs kan jy Lambertsbaai sien, voor jou die see en na links kan jy Elandsbaai se punt ook sien. Ek het aan Lambertsbaai so kant van die kop al met die rand langs teruggeloop opsoek na ‘n plek om af te gaan. So met die stap kom ek af op ‘n juweel. ‘n Witkruis arend nes. Hulle maak altyd nes in die mees onherbergsame plekke en mens kry nie sommer die geleentheid om hulle neste af te neem nie. Hierdie ontdekking het my opgewonde gemaak in die hoop dat ek dalk die arend te siene kan kry.

Verder met die rand langs het ek afgekom op ‘n plek waar die arende skilpaaie laat val om die dop oop te breek. Hier het ‘n hele paar lee skilpad doppe gele. Dis nogal min dat mens op so iets afkom. Arende vat skilpaaie vas in hul kloue en vlieg dan hoog in die lug op, “hover” en laat val hulle dan op klippe sodat die dop kan oopbreek en hulle dan die skilpad kan eet. ‘n Entjie verder het ek plek gekry om af te klouter en kom toe ook af op die olifant-skuurplekke.

Moeilik om te glo maar uit die boesman-tekeninge kon hulle sien dat daar eens op ‘n tyd elande, olifante, reuse-buffels en selfs leeus hier vrylik rondgeloop het. Nou om hierdie koppie wat ek uit en om is in perspektief te stel sien aangehegde foto. Wat dit erger maak is dat daar sand reg rondom die koppie is. So met die stap saam het ek die grot gekry waar Universiteit Weskaap die uitgrawings gemaak het. Bo die ingang van die grot sit ‘n boom met klomp vinknessies aan. Met die opkyk het my oog ‘n beweging gevang en jou wrintie waar, DAAR VLIEG DIE WITKRUIS-AREND!! Ek het slegs my selfoon gehad en toe laat waai ek maar met die fotos.

dlm3ok

Google het so bietjie werk gekry en 2 name uitgeskop, Mad-Hatter en Isabellas. Isabellas is welbekend aan ons en ons het toe besluit om bietjie Mad-Hatter te probeer. Ongelukkig met die aankoms daar was hulle reeds toe. Dan is dit maar Isabellas.
Ek wonder altyd as ek so by ‘n eetplek of afsaalplek langs die pad stop en daar is mense wat dink hulle. Die groep mense wat daar was het ons omtrent aangekyk. Vir Chantelle irriteer dit grensloos. Vir my weer nie. WANT: Daai mense wil heel moontlik ek wees. Vry.  Ek het dit al ‘n paar keer ervaar, dis asof die mense met ‘n verlange in hul oege sit.
Ek het Hake, Calamari en Chips bestel. Chantelle het ‘n Isabellas slaai gehad. En altwee disse het vorentoe gesmaak.

Intussen het die eetplek al hoe voller geraak. Ons het betaal en toe begin klaarmaak om te ry. Sulke tye is dit mos asof tyd in slow-motion verbygaan. Want die gesprekke rondom tafels word stiller, koppe draai, hier en daar ‘n fluister. Met die opklim op Witvos staan Chantelle met haar rug na die restaurant. “Kyk hulle nog steeds?” vra sy. Ek glimlag net en se ja. Met smaak klim ek op en start hom.Sy klim op en nou kyk almal oop en bloot. Eintlik moet mens sulke tye met die mense gaan praat en hulle net een vraag vra. Are you gonna dream forever? Or are you going to turn your dream into reality? Go out, and buy that bike. You know you want to.
As ek nou terugdink aan die bikers van oud, was dit ‘n roesbondel soos my ma sou gese het. Vandag, het ‘n biker, van enige tipe fiets, ‘n gesofistikeerde mens geraak. Iemand wat geleerd is, sy fiets kos heel moontlik meer as jou kar. Sit die ekstras om in rande en die getalle wat voor jou op die tafel beland is astronomies. Ek dink tog daar is bitter baie mense daar buite wat die Vryheid wat ‘n motorfiets gee en daai ervaring “crave”.
Terug by die terugtog besluit ek om sommer by die see te stop vir ‘n paar sonsondergang fotos. So gese, so gemaak. En ja, daar is min plekke in die wereld seker waar die son onder gaan soos aan die Weskus!

Ons het hele paar fotos geneem en ‘n steenbokkie ook in die proses bespeur. Na die son onder is het ons teruggekeer huiswaarts. Ons het nog ‘n steenbokkie gesien oppad huis toe. By die huis het die tyd sommer vinnig verloop en ons het ingekruip om so bietjie die oe te rus.

Met die wakkerword die volgende oggend het ek gou-gou al 8 bootjies op die water getel. En nog ‘n steenbokkie in die sirkel onder die huis gesien. Steenbokfontein doen sy naam gestand. Dis ook vir my mooi dat hulle nie gejag word nie en so mooi beskerm word. Ons het maar traag begin klaarmaak. Die dag was sommer vroeg warm en ek kon voel dat ons vandag die hitte op die pad gaan voel. Ons albei was dit eens dat ons ‘n dag langer moes gebly het. Verseker volgende keer. Ons is treinspoorpad langs tot by die Lambertsbaai-Graafwater pad en vandaar teer gery tot net anderkant Graafwater, regs gedraai en vandaar na die plaas Middeltuin gery. Ek het lank terug hier vir Stargrow gewerk as produksie-bestuurder. Ons is teerlangs verby Marcuskraal tot by die N7 en van hier tot by Kardoesie.

By Kardoesie het ons gestop vir ‘n nat dingetjie vir die keel en toe sommer ‘n HK Special bestel wat ons gedeel het. Die kelnerin was so oulik en het sommer self die kos gedeel. Net toe ons opstaan kom daar ‘n BMW padfiets/cruiser verby. Ek se vir Chantelle dit lyk na ‘n 1200. Hier haak ‘n ou af wat by ‘n tafel neffens ons sit, “Dis ‘n 1150RT.” Ons raak toe aan die gesels en ek vind uit dat hy self ‘n LC het en die eienaar is van die GM agentskap op Vredendal. Helmet? Conversation starter. Check.  Na ‘n lekker ete het ons maar bietjie ernstig oor gedraai Worcester toe. Ek moes nog by my makelaar uitkom om ‘n polis te teken en ons moes die skoonmense optel en saam terugneem Villiersdorp toe. Ek het Chantelle afgelaai by Spykerkuif se huis en gou deurgery na Francois toe om die papiere te teken. Vinnige stop by my ouers vir ‘n koeligheid vir die keel en toe rustig gery tot in Villiersdorp waar skoonma bietjie bederf het met lekker boerekos. Skaapboud, rys, vleis en ertappels.

Sal ek weer die afstande ry om Weskus Hokkie te besoek. Sonder om te twyfel kan ek ja antwoord.

Soos die opskrif lui: Weskus Hokkie Weskus Hemel.
Met die skryf van hierdie was die planne vir ons volgende trip reeds in plek. Plek is bespreek. Hierdie keer gaan ons na Die Hel, of Gamkaskloof as dit dalk meer bekend is. Hierdie trip se roete het egter n bietjie meer van ‘n kulturele inslag. Vir die wat Die Boekklub op kyknet kyk. Ons gaan kyk waar word hy geskiet. En vandaar na ‘n prag-plaas met ‘n gastehuis wat Kaapse plekke sal laat skaam lyk. Die plaas en die huis het ‘n ryke geskiedenis, nie net in die dorp en gemeenskap nie, maar ook vir my as mens, om nie eers van die gasvryheid van daardie wereld se mense te praat nie.
Maar vir die een sal julle moet wag tot einde April!!

Matewis oor en uit.